Die Evangelie

Die Evangelie

Die evangelie is God se goeie nuus aan die wêreld. Dit is ‘n boodskap van God se genade en liefde, wat eenvoudig en direk tot die hart spreek. Die kern daarvan is die Here Jesus Christus se kruisdood, waartydens Hy volkome met Sy lewe vir ons sonde versoening gedoen het en op die derde dag vanuit die dood uit opgestaan het.

Om hierdie boodskap werklik te verstaan, moet ons eers vier dinge begryp:

God se Heiligheid: God se heiligheid beteken dat Hy volkome regverdig is, en totaal van sonde afgesonder is (1Joh.1:5; Psa 99:9; 1 Pet 1:14-16). Omrede God heilig is kan Hy geen onreg of boosheid goedkeur nie. Inteendeel, in Sy geregtigheid moet Hy sonde oordeel.

Die Mens se Sonde: Die slegte nuus is dat ons almal sondaars is. Die sondeval het ‘n driedubbele probleem veroorsaak: Adam se sonde is aan ons almal toegereken (Rom.5:12, 18-19; 1Kor.15:21-22). Ons het ‘n sondige natuur geërf wat die bron van ons rebelse harte is (Rom.7:14-25; 13:12-14), en ons pleeg persoonlike sondes elke keer wanneer ons aan versoeking toegee (Jak.1:14-15). Sonde het ons van God geskei en daarom word ons almal geestelik dood gebore. (Rom.5:12). Indien ons in daardie toestand tot sterwe sou kom dan sal ons vir ewig van God in die poel van vuur geskei word (Openb.20:11-15). Mense is heeltemal magteloos om hulself te red, en in hierdie opsig het menslike goeie werke geen waarde in God se oë nie (Jes.64:6; Ef.2:8-9; Tit.3:5). Ons kan onsself nie deur wetsnakoming red nie (Rom.3:20; 3:28; Gal.2:16).

Die Oplossing, Christus se Plaasvervangende Dood: Die goeie nuus is dat “Christus vir ons al ons sondes (verlede, huidige en toekomstige sondes) gesterf het volgens die Skrif, en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrif” (1 Kor 15:3-4). Dit is die kern van plaasvervangende versoening: Jesus, die Regverdige, het in ons plek vir die onregverdiges gesterf om ons na God te bring (1 Pet 3:18). Die evangelie leer dat Jesus aan die kruis gesterf het om die straf vir ons sonde te dra en sodoende God se heiligheid te bevredig (Rom 3:25). Hy is die volmaakte “versoening” vir ons sondes, nie net vir ons s’n nie, maar vir dié van die hele wêreld (1 Joh 2:2). Jesus het die losprys vir al ons sondes betaal, en God bied ons nou as genadegawe die ewige lewe indien ons Hom (en Hom alleen) as ons Saligmaker vertrou (Joh 3:16-17).

Die Gevolg van Geloof in Die Evangelie: Wanneer ons in Christus glo, word ons sondes vergewe (Ef 1:7), ons ontvang onmiddellik die ewige lewe as huidige en ewige geskenk. (Joh 3:16; Ef.1:13). Ons ontvang onmiddellik die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid (2 Kor 5:21) en ontvang die krag om regverdig te leef (Rom 6:11-13). God red ons van die straf van sonde, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) die mag van sonde, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) en uiteindelik ook die teenwoordigheid van sonde (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking).


Verlossing is ‘n Onverdiende Geskenk:

Verlossing is nie iets wat ons vir God doen nie, maar wat Hy vir ons gedoen het. Ons is volkome hulpeloos (Rom 5:6-10) en kan onsself nie red nie. Ons moet dus verlossing as genade gawe (gratis geskenk) by God deur geloof in ontvangs neem (Ef 2:8-9). Dit is geheel en al die werk van God se genade, nie iets wat ons kan verdien nie. Ons hou onsself ook nie deur goeie werke gered nie, dit is God wat ons gered hou (Joh.10:28-29).

Jesus het die volle prys vir al ons sonde betaal. Hy verwag van ons om Hom alleen daarvoor te vertrou. Die gawe van die ewige lewe is geensins op ons goeie werke gebaseer nie, maar slegs op God se genade (Tit 3:5). Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus die Seun van God te glo, wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se (volledige) persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal (dit sluit al sy verlede, huidige, asook toekomstige sondes in), en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit). Ons moet onthou dat ons verlossing geensins op ons eie werke gebaseer is nie. Ons moet dus ons vertroue slegs in Christus alleen plaas, en nie in wat ons self doen nie.

Indien jy nog nie die evangelie geglo het nie, waarom dit nie nou doen nie? Die skrifte waarsku ons: “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” (Spr.17:1) Die lewe is kort: “Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.” (Jak.4:14ff) Daar is absoluut geen tweede kans om gered te word wanneer jy tot sterwe kom nie. Die geleentheid is nou, die gawe van die ewige lewe kos jou niks maar dit het God alles gekos.

Seën groete!

Vic


Belangrike Versoek:
As die ontvangers van God se onbeskryflike gawe van die ewige lewe, verwag die Here dat ons almal op die een of ander wyse met die verkondiging van die Evangelie besig moet wees. (Indien die Here dit op die leser se hart lê, kan die leser die volgende skakel volg en ‘n kort weergawe van die Evangelie uitdruk en eksemplare daarvan orals opplak, uitdeel en selfs in die biblioteek boeke, as boekmerke, plaas. Die leser kan daarmee doen net wat hy/sy mag goeddink, net solank as wat die Evangelie uitkom en met die mensdom om ons gedeel word! Hier is die skakel “Kort weergawe van die Evangelie” Onthou die Here sal ons by die Regterstoel Oordeel vir ons moeite beloon!!

Baie dankie en Seën Groete!!

Vic

Wat sê die Skrifte